Snow Protea

INHOUD

 

1. INLEIDING
2. GESKIEDENIS
3. TERROIR
4. WYNE  EN VARIëTEITE
5. WYNMAKER EN DIE MENSE
6. AKKOMMODASIE EN AKTIWITEITE
7. BEWARING, BIODIVERSITEIT EN MAATSKAPLIKE VERANTWOORDELIKHEID
8. KONTAK EN VERKOPE: NASIONAAL EN INTERNASIONAAL
9. INTERESSANTE VRAE


1. INLEIDING

Cederberg Wyne, die wynlandgoed met die mees unieke ligging in Suid-Afrika, is geleë in die ongerepte Cederberg Wildernis. Hier in die Kaapse Blommeryk met sy fynbos en asemrowende rotsformasies lê ons wingerde, die hoogste bo seespieël in die Kaap. Die plaas is reeds vyf geslagte lank in die Nieuwoudt-familie.

Bewaring is vir ons ’n prioriteit, daarom is Cederberg Wyne ’n entoesiastiese lid van die Biodiversiteit & Wyn Inisiatief en die Cederberg Bewarea.

Danksy die koue klimaat, afgeleë ligging, suiwer berglug en skoon water is die wingerde gesond en virusvry. Die resultaat is wyne met ’n besonder suiwer vrugtigheid wat wêreldwyd al talle toekennings ingepalm het. David Nieuwoudt is tans die wynmaker.

Cederberg Wyne maak ses reekse – Cederberg, wat die besonderse Bukettraube insluit; Five Generations; David Nieuwoudt Ghost Corner; die Waitrose Foundation volhoubare reeks; Cape Atlantic, en die Kaapse Wynmakersgilde se veilingwyne.

Sanddrif, ons vakansieoord op die walle van die Dwarsrivier, bied die ideale basis waarvandaan jy die Cederberge se skoonheid kan ontdek.

———————————————————————————————————————————–

2. GESKIEDENIS

’n Kort geskiedenis van Dwarsrivier en die kelder

Die San en die Khoi wat die Cederberge sedert die vroegste tye bewoon het, het ’n ryke erfenis van rotskuns nagelaat. Eers in die middel-1800’s het nog ’n groep geharde mense hulle in die Cederberge kom vestig – die Nieuwoudt-familie. Die eerste Nieuwoudts het in die 1700’s in Suid-Afrika aangekom. Amper 100 jaar later het hulle nasate Cederberge toe getrek. In 1893 het die huidige familie na die plaas Dwarsrivier verhuis. Dwarsrivier staan ook bekend as Cederberg Private Cellar, Cederberg Wyne en Sanddrif-vakansieoord.

Ses geslagte gelede sou niemand ooit kon raai dat dié ruwe fynbosgebied op die rand van die Vetplantkaroobioom eendag die tuiste van Cederberg Wyne, die hoogsliggendste wynplaas in die Kaapse wynland, sou wees nie. Ongerepte fynbos floreer steeds op die grootste deel van die plaas – sedert 2011 is net 50,2 ha onder wingerd. Vandag word dié bekroonde wynlandgoed besit deur Ernst en David Nieuwoudt – die trotse vierde en vyfde geslag, met David se dogtertjie, Emma, as die sesde geslag.

Daar word baie stories vertel oor ‘hoe dit alles begin het’. Die eerste John Platter Wine Guide (1980) stel dit dalk die beste: ‘Oom Pollie [Nieuwoudt] het die deskundiges stomgeslaan deur bekroonde wyne te verbou op sy plaas hoog in die afgeleë Cederberge. Hy het aanvanklik begin wyn maak vir die plaaswerkers uit tafeldruiwe wat te laat ryp geword het om na die naaste koöperasie te neem. Dit was so suksesvol dat hy besluit het om rooiwyn te probeer maak. Die eerste oes, in 1977, was nou wel te klein om gesertifiseer te word, maar dis deur die deskundiges bestempel as van ‘Superieur’-standaard.’

Die ander storie lui soos volg: Daar was eers nie wingerd op die plaas nie. ’n Vriend wat vir die Droëvrugteraad gewerk het, het opgelet dat wintervrugte baie goed vaar op hierdie vrugte- en tabakplaas. Hy het aanbeveel dat die familie tafeldruiwe begin aanplant. Die eerste tafeldruiwe is in 1965 geplant en het so goed gevaar dat die eerste wyndruiwe in 1973 geplant is – die bron van die uitsonderlike Cabernet Sauvignon van 1977/8. David se oupa, oom Pollie, en sy oom, oom Flippie, het die plaas tot in 1997 bestuur. In die loop van 1997 het David die leisels by oom Flippie oorgeneem. Oom Pollie is in 1988 oorlede en oom Flippie in 2010.

’n Chronologiese geskiedenis

1835 Die Nieuwoudts koop die grond by hulle bure, die Du Toits.
1894 Die huidige familie Nieuwoudt vestig hulle op Dwarsrivier. Hulle begin met vrugte, tabak, vee en groente boer.
1963 Oom Pollie Nieuwoudt (derde generasie) plant die eerste tafeldruiwe, Barlinka.
1973 Die Cederberg Wildernis word geproklameer (tweede wildernisgebied in SA).
Cederberg Cellars word as ’n maatskappy geregistreer en die eerste wingerd word aangeplant.
1978 Die eerste wyn word op Dwarsrivier gemaak.
1989 Cederberg Wyne speel ’n sleutelrol in die stigting van ’n toerismekantoor op Clanwilliam.
1997 Die huidige wynmaker, David Nieuwoudt (vyfde geslag), neem die leisels op die plaas oor.
Cederberg Wyne help om die Cederberg Bewarea te stig.
1998 Eerste herplanting begin om tafeldruiwe met wyndruiwe te vervang.
2001 Cederberg Wyne sluit aan by Integrated Production of Wine (IPW).
2004 Alle vrugtebome word verwyder en Dwarsrivier word uitsluitlik ’n wynplaas.
Wines of SA (WOSA) hou sy eerste strategiese vergadering oor die Biodiversiteit & Wyn Inisiatief (BWI).
Die Wes-Kaapse Raad vir Natuurbewaring en Cape Action for People and the Environment (CAPE) bring die Groter Cederberg Biodiversiteit Korridor (GCBK) tot stand.
2005 15 September: Verfilming van die WOSA-video by Cederberg Wyne.
2006 25 Februarie: Cederberg Wyne nooi ’n konsultant uit om die kelder se ‘skoon water’ te evalueer.
1 Augustus: Cederberg Wyne word ’n lid van BWI.
1,1 ha Viognier- en 3,5 ha Sauvignon blanc-wingerd word aangeplant.
2007 1,5 ha elk van die 32-jaar-oue Cabernet sauvignon- en Chenin blanc-wingerd word verwyder.

———————————————————————————————————————————–

3. TERROIR

Die Wyn van Oorsprong-stelsel

Die Cederberge lê ongeveer 200 km noord van Kaapstad. Hierdie uitgestrekte gebied sluit ongeveer 162 000 ha ruwe berggebied in, van die Pakhuispas agter Clanwilliam in die noorde, tot by Grootrivier in die suide na Ceres se kant toe. Ses en veertig kilometer binneland se kant toe vanaf die N7, tussen Citrusdal en Clanwilliam – met twee bergreekse wat die plaas van die Olifantsrivier skei – lê Cederberg Wyne op die plaas Dwarsrivier. Dis die hoogliggendste wynplaas in die Wes-Kaap. Wat die SA Wyn van Oorsprong-stelsel betref, is die Cederberg-wyk op 24 Februarie 1978 geproklameer. Daar is 51 wyke in die Suid-Afrikaanse wynland. Let daarop dat Cederberg een van net ’n paar is wat nie by een van die 18 distrikte of vyf streke ingedeel is nie. Hoekom? Eenvoudig gestel, dit kom neer op die terroir.

Cederberg Wyne is die enigste wynplaas in die Cederberg-wyk. En moet ook nie die kommersiële wynroetestelsel met die Wyn van Oorsprong-klassifikasiestelsel verwar nie. ’n Wynroete is ’n kommersiële onderneming en het niks met die Wyn van Oorsprong-stelsel te make nie. Cederberg Wyne is nie deel van ’n wynroete nie en is volgens wet by die Cederberg-wyk ingedeel.

Terroir sluit vier elemente in: topografie, klimaat (meso-, makro- en mikroklimaat), geologie en grondtipe

Die Weskus van Suid-Afrika is een van die streke met die laagste reënval in die land. Tussen Graafwater en Clanwilliam is die maksimum reënval 400 mm per jaar en dit daal tot 300 mm per jaar in die Trawal/Koekenaap-gebied. Die reënval in die Cederberge wissel tussen 450 en 800 mm per jaar. Cederberg Wyne is in ’n unieke klimaatstreek geleë wat as ’n koel Mediterreense klimaat eerder as ’n maritieme of kusklimaat beskryf kan word. Die gemiddelde dagtemperatuur in die winter wissel tussen 12 en 18 °C, en styg tot 29,3 °C in Januarie en 39,9 °C in Februarie.

Die plaas Dwarsrivier, waar Cederberg Wyne se druiwe verbou word, is aan die voet van Sneeuberg geleë. Dit is een van die hoogste pieke in die Wes-Kaap. Sneeuberg lê 2 026 m bo seespieël. Cederberg Wyne roem daarop dat hulle die hoogliggendste wingerde in die Wes-Kaap het, tussen 950 en 1 100 m bo seespieël. Die grondtipes is goed gedreineer op verweerde skalie teen die rante en hoë berghange, met ’n hoër kleipersentasie waarin rooi kultivars floreer. Suur geelbruin grond van granietoorsprong moet voor planting gemanipuleer word. Daar is baie sandsteengrond met ’n ligte struktuur wat goed geskik is vir wit kultivars. Doepleksgronde met growwe sand op klei kom ook voor. Die grondtipes behoort tot die Bokkeveld- en Witteberg-groepe.

Gedurende oestyd word daar elke dag net ’n klein hoeveelheid druiwe geoes, nooit meer as vyf ton op ’n slag nie. Die plukkers begin soggens om 05:30 oes terwyl dit nog koel is, tot ongeveer 09:00, voor die hitte van die dag toeslaan. Die afgelope 15 jaar het die begin van oestyd geleidelik verskuif vanaf middel-Februarie tot laat in Januarie. Deesdae duur oestyd tot ongeveer 20 April.

Wanneer daar oor terroir gepraat word, word die belangrikheid van die natuurlike plantegroei dikwels oor die hoof gesien. As ons na verskillende areas sou kyk om te sien op watter grondtipes watter natuurlike plante voorkom, sal ons ’n beter idee kry van wat om waar te plant. Die Wes-Kaap het ses biome en 18 veldtipes, waarvan twee biome, naamlik die Fynbos en die Verplantkaroo (of Sukkulente Karoo), en drie veldtipes, naamlik sentrale bergrenosterveld, bergfynbos en laagliggende Vetplantkaroo, in die Cederberge voorkom.

Klimaat

Die Cederberge het ’n koel Mediterreense klimaat met winterreënval en geen kusinvloede nie.

Lente en somer

Wind: Matig noordwes bedags; noordoos snags
Reën: Baie min, ’n donderstorm nou en dan
Nagtemperature: Laat ryp is dikwels ’n probleem in die lente; gemiddeld onder 10 °C
Dagtemperature: 28–33 °C

Herfs en winter

Wind: Noordwes
Reën: Junie tot Augustus: Meer as 650 mm
Nagtemperature: Onder 0 °C
Dagtemperature: 10–20 °C

Hoe verskil Dwarsrivier se terroir van dié van ander streke?

Aansig: Wanneer ’n mens van terroir praat, is daar vier belangrike faktore: grondtipe, helling (topografie), klimaat en geologie. Druifvariëteite word hoofsaaklik beïnvloed deur die grondtipe en die helling waarteen hulle geplant word. Elke variëteit het sy eie spesifieke lokaliteit nodig.

Grondtipes: Die grond op die plaas is nie homogeen (gelyksoortig) nie. In ’n klein geografiese gebied kan die grondtipes hemelsbreed van mekaar verskil, van sand tot leem, sandsteen en skalie. Die belangrikste grondsoorte is sandsteen, rooi en grys leiklip, ontbinde graniet, sanderige leemgrond, Hutton en Glenrosa. Deur dieselfde variëteit op verskillende grondtipes te plant, kom multidimensionele eienskappe in die druif na vore wat ’n besonderse kompleksiteit en eiesoortige identiteit aan die wyn gee.

Helling: As gevolg van die bergagtige terrein is daar talle hellings met verskillende grondtipes. Dit stel ons in staat om die grond en helling wat die beste geskik is vir die produksie van gehaltedruiwe vir die verskillende variëteite te kies. Cabernet sauvignon word byvoorbeeld teen ’n effens warmer suidwestelike helling geplant as Shiraz, wat weer teen ’n effens koeler suidoostelike helling geplant word.

Windrigting: Die vernaamste verkoelingsfaktor in die Cederberge is die wind, hoofsaaklik die noordwestewind wat van die Uitkykpas se kant af waai. Dis die eerste pas in die rigting van die kus. Vanaf middel-Desember begin die noordwestewind om ongeveer 09:00 of 10:00 soggens waai. Die wind waai heeldag en gaan lê so om en by 18:00 of 19:00. Omdat dit ’n ligte wind is, is dit voordelig vir wingerde, want dit skep ’n koeler mikroklimaat in die rye. Die windrigting is dus ’n belangrike faktor om in gedagte te hou wanneer die ryrigting bepaal word. Die wind hou die wingerdstokke koel en droog, wat swamsiektes voorkom. Dis ’n groot voordeel vir wingerdbou in die Cederberge.

Son: Soos ons weet, is die oggendson nie so warm soos die middagson nie. Dit word in ag geneem wanneer ons variëteite wat vroeg ryp word plant, soos Sauvignon blanc en Chenin blanc. Dié variëteite se geurkomponente is sensitief vir direkte sonlig, daarom word hulle in ’n oos-wes-rigting geplant. Gelukkig is dit ook die oorheersende windrigting. Die druiwe word dus nie aan direkte sonlig blootgestel nie. Ons probeer om die kultivars wat laat ryp word, soos Cabernet sauvignon, in ’n noord-suid-rigting te plant, alhoewel dit nie ’n vereiste is nie. Hierdie ryrigting gee die druiwe groter blootstelling aan die son, wat belangrik is vir kleurontwikkeling en fenoliese rypwording.

Dansky die plaas se afgeleë ligging en die uiters lae wintertemperature is die wingerdstokke virus- en siektevry – ’n waardevolle voordeel in druiweproduserende gebiede.

4. WYNE EN VARIëTEITE

Cederberg Wyne se produksie bestaan uit 60% rooiwyn en 40% witwyn. Daar is tans 53 ha onder wingerd op die plaas. Wat die witwynvariëteite betref, val die fokus op Sauvignon blanc en Chenin blanc, en wat die rooies betref op Cabernet sauvignon en Shiraz. Ander kultivars wat op die plaas verbou word is Bukettraube, Chardonnay, Viognier, Merlot en Pinotage (is uitgehaal in 2008). Sauvignon blanc- en Semillon-druiwe uit Elim word gebruik vir die David Nieuwoudt Ghost Corner-reeks. Hiervoor gebruik David ’n klein hoeveelheid druiwe van ’n paar uitgesoekte wingerde.

In 2007 het David vir dr. Charl du Toit van die naburige plaas, Driehoek, gehelp om 5 ha wingerd aan te plant: Sauvignon blanc (2 ha); Shiraz (2 ha) en Pinot Noir (1 ha). Soos die kraai vlieg lê dié wingerd 8 km noordwes van Dwarsrivier. Dr. Du Toit voorsien nie dat hy ooit self wyn sal maak nie, daarom help hy vir David op dié manier. Die eerste Shiraz uit hierdie wingerd is in 2009 gepluk.

Wyne

’n Vraag wat dikwels by wynproeë gevra word, is: Wat is julle vlagskipreeks en voorste handelsmerk/e? Wel, volgens ons word ‘vlagskipreekse’ en ‘voorste handelsmerke’ deesdae deur elke Jan Rap en sy maat by enige geleentheid voorgehou. Cederberg Wyne het ses verskillende reekse – ons glo elke reeks, en trouens elke wyn, moet sy eie naam hoog hou.

Die ses reekse is:

Cederberg-reeks:

6 wyne, ’n Méthode Cap Classique,
’n Chardonnay en ’n Rosé

Cederberg Sauvignon Blanc

Cederberg Chenin Blanc

Cederberg Bukettraube

Cederberg Cederberger

Cederberg Cabernet Sauvignon

Cederberg Shiraz

Blanc de Blancs Méthode Cap Classique

Chardonnay

Sustainable Rosé

Cape Atlantic-reeks:


3 wyne

Cape Atlantic Sauvignon Blanc

Cape Atlantic Pinotage

Cape Atlantic Merlot

Five Generations-reeks:


2 wyne

Five Generations Chenin Blanc

Five Generations Cabernet Sauvignon

Waitrose Foundation Sustainable-reeks:


Slegs beskikbaar by sekere
Waitrose-winkels in die VK

2 wyne

Waitrose Sustainable Chenin Blanc

Waitrose Sustainable Shiraz

David Nieuwoudt Ghost Corner-reeks:

2 wyne

David Nieuwoudt Ghost Corner Semillon

David Nieuwoudt Ghost Corner Sauvignon Blanc

Wyne vir die Kaapse Wynmakersgilde-veiling:


Slegs beskikbaar by die jaarlikse Kaapse Wynmakersgilde se veiling

2 wyne in 2008 en 2009

Cape Winemakers Guild Teen die Hoog Shiraz

Cape Winemakers Guild Semillon

 

Kultivars

Hier volg ’n lys van die kultivars waarmee ons werk en waar hulle groei:

Wit kultivars

Bukettraube
uit die Cederberge

—————————————————————-

6,7 ha in 2 blokke

Oudste aanplanting: 1994 in Glenrosa

Jongste aanplanting: 2008 in Glenrosa

Eerste oesjaar: 1979

Internasionale oorsprong: Dit word algemeen aanvaar dat Bukettraube in die 19de eeu in Elsas, Duitsland verbou is. Vir interessante gedagtes oor die oorsprong van hierdie kultivar, kyk na die ‘Interessante vraag’ hieronder.

Chardonnay
uit die Cederberge

—————————————————————-

1,5 ha in 1 blok

Oudste aanplanting: 1997 in Glenrosa

Jongste aanplanting: Geen

Internasionale oorsprong: Boergondië, Oos-Frankryk. Moderne DNA-vingerafdruknavorsing dui daarop dat Chardonnay ’n kruising is tussen die Franse Pinot noir en Gouais blanc – ’n variëteit wat die Romeine uit die Balkan gebring het. Dié variëteit is glo vir teling gekies omdat die kruising so gehard was.

Chenin blanc
uit die Cederberge

—————————————————————-

6,4 ha in 2 blokke

Oudste aanplanting: 2004 in sandsteen

Jongste aanplanting: 2008 in Glenrosa

Eerste oesjaar: 1974

Internasionale oorsprong: Dis een van die ouer kultivars wat waarskynlik in die 9de eeu in die Anjou-wynstreek in Wes-Frankryk sy oorsprong gehad het. Vanaf Anjou is dit na die Loire-vallei geneem waar die eerste aanplanting in 1445 aangeteken is, op ’n plek genaamde Mont Chenin.

Sauvignon blanc
uit die Cederberge

—————————————————————-

11 ha in 6 blokke

Oudste aanplanting: 2000 in grys lei

Jongste aanplanting: 2006 in rooi lei en sandsteen

Eerste oesjaar: 1984

Internasionale oorsprong: ’n Vroegrypwordende variëteit wat in die westelike Loire-vallei en die Bordeux-streek ontstaan het. Dit is reeds in die 17de eeu vermeld.

Sauvignon blanc
uit Elim

—————————————————————-

3 ha in 1 blok

Oudste aanplanting: 2001 in Bokkeveld-leiklip

Jongste aanplanting: 2006 in rooi leiklip en sandsteen

Eerste oesjaar: 2008

Sémillon
uit Elim

—————————————————————-

3 ha in 1 blok

Oudste aanplanting: 2002 in Bokkeveld-leiklip

Jongste aanplanting: 2006 in rooi leiklip en sandsteen

Eerste oesjaar: 2008

Internasionale oorsprong: Bordeaux in Suidwes-Frankryk. Dit word steeds beskou as die belangrikste witwynvariëteit in die Bordeaux-gebied.

Viognier
uit die Cederberge

—————————————————————-

1 ha in 1 blok

Jongste aanplanting: 2006 in rooi leiklip

Eerste oesjaar: In 2009, vir ’n eksperimentele wyn

Internasionale oorsprong: Daar word geglo dat Viognier in Dalmasië in die hedendaagse Kroasië ontstaan het. Eers later, in 281 AD, het die Romeine dit na die Rhône-vallei in Frankryk gebring. Die Romeine het dié wyn glo “via Genhennae” genoem, wat “die pad na die hel” beteken omdat dit so moeilik was om die wingerdstokke aan die groei te kry.

Rooi kultivars 

 

Cabernet sauvignon
uit die Cederberge

—————————————————————-

7,5 ha in 3 blokke

Oudste aanplanting: 1998 in rooi leiklip en Hutton; die 1972 stokke is 2007 uitgehaal

Jongste aanplanting: 2002 in rooi leiklip en Hutton

Eerste oesjaar: 1977

Internasionale oorsprong: Dié kultivar het ontwikkel uit die toevallige kruising tussen Sauvignon blanc en Cabernet franc in die 17de eeu in die Médoc-streek in Bordeaux, Frankryk.

Merlot
uit die Cederberge

—————————————————————-

3,1 ha in 2 blokke

Oudste aanplanting: 1995 in sanderige leem/alluviale grond

Jongste aanplanting: 2000 in rooi leiklip en Hutton

Eerste oesjaar: 1989

Internasionale oorsprong: Dis die eerste keer in 1784 in Bordeaux aangeteken, waar dit uit ’n Cabernet franc-wingerdstok ontstaan het. Dit is vernoem na ’n swart voël genaamd ‘merle’. Dié voël het óf van die druiwe gehou, of die druiwe se kleur lyk soos die voël se vere.

Pinotage
uit die Cederberge

—————————————————————-

Pinotage uitgehaal na die 2010 oes

Oudste aanplanting: 1994 in leiklip en sandsteen

Eerste oesjaar: 1973

Internasionale oorsprong: Dis een van drie plaaslik verboude druifkultivars. Pinotage is uit Pinot noir en Cinsaut noir (Hermitage) geteel. In 1925 het prof Izak Perold die vier saadjies uit die aanvanklike kruising in sy eie tuin geplant. Twee jaar later het prof CJ Theron die vier saailinge net betyds gered voor ’n tuinskoonmaakdiens hulle uitgehaal het. Hy het hulle in Elsenburg Landboukollege se kwekery geplant.

Shiraz
uit die Cederberge

—————————————————————-

13 ha in 5 blokke

Oudste aanplanting: 1999 in rooi leiklip en Hutton

Jongste aanplanting: 2004 in rooi leiklip en Hutton

Eerste oesjaar: 2001

Internasionale oorsprong: Shiraz is een van die wêreld se oudste kultivars met twee onbekende ‘ouers’, nl. Dureza en Mondease blanche. In Frankryk staan dit as Syrah bekend.

INTERESSANTE VRAAG: Hoe het Bukettraube ontstaan?

Die afgelope paar jaar het Cederberg Wyne brokkies inligting versamel van kollegas en internetblaaie oor die oorsprong van Bukettraube.

Webwerwe bevat dikwels misleidende inligting oor Bukettraube. Inligting word summier van Wikipedia afgelaai, wat eers in 2010 skrapse inligting oor Bukettraube begin publiseer het.

Hier volg die jongste feite oor Bukettraube wat ons met behulp van onder andere Anna Schneider (Italië) en Thiery Lacombe (INRA, Frankryk), saamgestel het.

Bukettraube is as saailing deur die wynboer Sebastian Englert (1804–1880) geselekteer. Dit was in ongeveer 1860 in die Randersacker-munisipaliteit in die distrik van Laer-Franke (naby Würzburg – Franken in Duitsland). Franke is ’n wynstreek in die noordelike deel van die hedendaagste staat Bavarië. Sinonieme  vir Bukettraube is Bukettrebe, Buket, Bouquettraube, Bocksbeutel (dit verwys gewoonlik na die plat vorm van ’n bottel), Bouquet blanc (Portugees), Buketriesling en Würzburger (Würzberg is ook ’n dorp).

Bukettraube is ’n kruising tussen Sylvaner B en Frankenthaler. Hier volg ’n vertaling van wat Thierry Lacombe (INRA, Frankryk) in Augustus 2010 vir ons geskryf het: “In 2007 het ons laboratorium (INRA Montpellier) die ware ouers van dié kultivar ontdek: dis ’n kruising tussen Sylvaner en Frankenthal (= Trollinger = Schiva grossa). Die kruising is in die 19de eeu in Duitsland gedoen.”

Bukettraube is in Duitsland, Frankryk, Spanje (Pènedes, Katalonië) en Suid-Afrika as ’n kultivar geregistreer, maar volgens gerugte het Italië, Hongarye en Zimbabwe ook in die verlede dié kultivar aangeplant. In 1853 is Bukettraube in Zell aangeplant. In 1958 was daar nog 10 ha Bukettraube in Frankryk oor. Vandag is daar ’n klein moontlikheid dat daar nog 9 ha in die Elsas-streek kan wees (Grand Cru-wingerde in the Bas-Rhin- of Haut-Rhin-streek) – ons soek nog. Dit is nie ’n vereiste om Bukettraube op die AOC-wyne van Elsas te noem nie, maar dit mag in versnitte gebruik word.

Die druif se dop is ’n bietjie dunner as normaalweg, wat dit meer sensitief vir witroes maak. In Europa stem die bot- en rypwordingstyd baie ooreen met dié van Riesling (Rhein Riesling). Die trosse is sensitief vir Botrytis cinerea. Die druiwe word redelik vroeg ryp met goeie suiker- en suurvlakke, en is gewild omdat dit  ’n aromatiese noot in versnitte kan bring. Dit maak goed gebalanseerde medium-droë wyne.

Cederberg Wyne is een van net vier plase in Suid-Afrika wat deesdae Bukettraube maak. Volgens SAWIS was daar in 1999 332 ha onder Bukettraube in Suid-Afrika, maar in 2009 was daar net 76ha oor. Cederberg Wyne se 6,7 ha lewer ’n semi-soet Bukettraube met eksotiese, besonder delikate blom- en vrugteslaai-aromas, met ’n tikkie heuning/gedroogde perskes en ryp muskaat. Die wyn is heerlik saam met kerries, gekruide hoender en bloukaas, of jy kan dit heerlik koud op sy eie geniet terwyl die son sak.

*** Cederberg Wyne hoor graag van kollegas en boere wêreldwyd wat ons kan help om meer oor Bukettraube uit te vind.

———————————————————————————————————————————–

5. WYNMAKER EN DIE MENSE

In Oktober 2005 lui die foon: David word genooi om ’n lid van die Kaapse Wynmakersgilde te word, die 37ste lid sedert die Gilde se stigting in 1982. ’n Besonderse eer vir ’n wynmaker wat sy staal moet wys drie uur se ry noord van Suid-Afrika se wynkern!

David Josephus Nieuwoudt is op 9 Mei 1972 in die Citrusdal-hospitaal gebore – die jongste van vyf kinders. In 1990 matrikuleer hy in Clanwilliam. Na ’n jaar in die voormalige SA Weermag, skryf David by Elsenburg Landboukollege in, waar hy uitblink as student. Daarna werk hy vir ’n jaar lank op Lievland onder die wakende oog van Paul Benade. Aan die einde van 1996 kom hy terug plaas toe en neem hy die leisels as wynmaker oor by sy oom, Flippie Nieuwoudt.

Drie jaar later kry Cederberg Private Cellar ’n 4,5-ster toekenning in Platter’s SA Wine Guide van 2000 – vir ’n Chardonnay. Vandag word hierdie Chardonnay-druiwe gebruik vir ’n oesjaar- Méthode Cap Classique. In 2004 wen die Cederberg Shiraz 2002 die toekenning vir die beste rooiwyn in Suid-Afrika. In 2008 wen die Cederberg Shiraz 2006 ’n Internasionale Troffee op die jaarlikse Decanter World Wine Awards vir die beste Rhône-styl wyn bo £10 in die wêreld. By twee geleenthede het Wine-tydskrif vir Cederberg Wyne onder die top 10 wynplase in Suid-Afrika geplaas. En dis net ’n paar van David se toekennings en prestasies. Hy is ook die huidige voorsitter van Elsenburg Landboukollege se Alumnivereniging.

David bring sy vrye tyd saam met sy gesin deur of kuier om die braaivleisvuur. Hy lees baie na oor wyn en, as die kelderwerk dit toelaat, ry hy graag bergfiets. Sy gunstelinggesegdes is: ‘Hou dit eenvoudig’ en Dis so maklik soos dit’.

Die res van ons…

Daar woon sowat 120 mense op Dwarsrivier. David en sy vrou, Cisca, deel hulle huis met klein Emma, wat op die 7de dag van die 7de maand in 2007 gebore is – op dieselfde dag as wat die derde Méthode Cap Classique op die plaas gebottelleer is. David se pa, Ernst, bly nog op die plaas en is so aktief soos altyd. Hy help David met die talle werkies agter die skerms wat alles op die plaas so glad laat verloop. Ernst is getroud met Marlene, wat die plaaswinkeltjie bedryf.

Daar is vier kantoorpersoneellede: Pieter du Toit, wat die bemarking behartig; Jaco Fourie, wat die wynlogistiek, kompetisies en uitvoerreëlings hanteer; Cisca, David se vrou, wat na die geldsake omsien; en Huibré Brits. Huibré hanteer die honderde toeriste wat by ons deure instap om permitte te kom koop en raad te vra. Sy is ook verantwoordelik vir al die besprekings vir Sanddrif-vakansieoord en verkoop wyn en ander items aan die besoekers.

Maar niks sou moontlik gewees het sonder die formidabele Jennifer Bock, beter bekend as Koekie, die bobotie-koningin, nie! Koekie is in beheer van die herehuis en bedien tee en koffie aan almal wat gou hulle dors wil les.

Ander mense wat in die 29 huise op die plaas woon sluit in kelderwerkers, wingerdpersoneel en ’n klein personeel wat na die kampterrein en die tuine omsien. Tien van die inwoners is afgetree en 19 van hulle is nog op skool, óf op die plaas, óf op Clanwilliam. Daar is ewe veel mans as vroue. Drie geslagte Nieuwoudts en vier geslagte werkers woon op die plaas.

Dwarsrivier Laerskool

Agter die herehuis en die kelder, tussen die plaaswerkers se huise, teen die agtergrond van die majestueuse Cederberge, word ’n klein staatskooltjie deur twee onderwysers bedryf. Die skool het tans 18 leerlinge. In 2009 het die skool, wat amptelik bekend staan as Dwarsrivier Primêr SSKV (Skool sonder Kerkverband), sy 50ste herdenking gevier.

———————————————————————————————————————————–

 

6. AKKOMMODASIE EN AKTIWITEITE

Permitte, besprekings en akkommodasienavrae:

Tel.:
+27 27 482 2825
E-pos:
sanddrif@cederbergwine.com
Faks:
………………………………………………..
086 509 1683

Wynverwante navrae:

Tel.:
+27 27 482 2827
E-pos: info@cederbergwine.com

.


Aanwysings vanaf Kaapstad

Vanaf Kaapstad, neem die N7-afdraai op die N1 tot 28 km ná Citrusdal, draai dan regs af by die Algeria/Cederberg-bordjie. Ry verby Algeria en oor die Uitkykpas (tweede pas) – ongeveer 46 km grondpad – tot by Dwarsrivier, tuiste van Cederberg Wyne. Totale afstand vanaf Kaapstad: ±250 km; ±3 uur se ry.

VIR GOOGLE EN GRAFIESE KAARTE, KLIK OP DIE SKAKELS HIERONDER:

Cederberg Wyne Ontvangs
19º15’28”E 32º30’12”S
Sanddrif Vakansieoord Ontvangs 19º15’27”E 32º30’14”S

.

Kantoorure:

Maandag tot Saterdag:
08:00–12:30 & 14:00–17:00
Sondae & openbare vakansiedae: 09:00–12:00 & 16:00–18:00

.

Kelderure:

Maandag tot Saterdag:
Sondae, Goeie Vrydag & Kersdag:
09:00–12:00 & 14:00–16:00
Nie oop vir wynproeë nie

.

.

———- AKKOMMODASIE ———-

.

SANDDRIF-VAKANSIEOORD

Na ’n rustige rit van drie uur, ±250 km vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe, kom jy in die hartjie van die Cederberg aan. Op die walle van die Dwarsrivier aan die voet van die Wolfberg, lê Sanddrif, Cederberg Wyne se vakansieoord. In die laat-1950’s het die Nieuwoudt-familie van die bestaande plaasgeboue begin opknap vir voetslaners en rotsklimmers wat oornagplek gesoek het voor hulle met hulle ekspedisies begin het – nog lank voor voetslaan en rotsklim gewilde sportsoorte geword het.

Sanddrif is die ideale basis vir natuurliefhebbers en avontuurlustige voetslaners, bergfietsryers en rotsklimmers. Dis toeganklik, maar voel afgeleë en is dus die perfekte plek om van die stadsgewoel af weg te kom. Daar’s baie om te doen en te geniet: vier bekende dagstaproetes, voëlkyk, swem, rotsklim, kampeer, bergfietsry, ’n unieke sterrewag en rotskuns. Diegene wat nie so fiks is nie kan in die kristalhelder water van die Maalgatpoele ontspan, net 35 minute se stap van Sanddrif af, of deur die Vallei van die Rooi Gode wandel, die son oor die berge sien ondergaan en later om die kampvuur sit en die derduisende helder sterre bewonder.

 

.

AKKOMMODASIE EN GERIEWE

Sanddrif-vakansieoord bied besoekers ’n wye verskeidenheid akkommodasiegeriewe. Daar is meer as 30 goed versorgde kampeerplekke met ’n veilige speelgrond vir kinders, asook 16 gesellige en ten volle toegeruste selfsorgchalets met ’n asemrowende uitsig oor die bekende Wolfbergskeure. Die Dwarsrivier-plaaswinkel hou slegs basiese benodigdhede aan. Die vriendelike personeel by die kantoor sal jou help met al die inligting, sleutels en permitte wat jy nodig het om die omgewing te verken. Besoekers word aangeraai om vroegtydig te bespreek omdat die vakansieoord oor naweke en gedurende skoolvakansies gou vol raak. Weens die streng bewaringsreëls word net ’n sekere getal dagbesoekers en voetslaners toegelaat.

.

Reëls:

- Geen troeteldiere of vierwielmotorfietse toegelaat nie

- Geen geraas na 22:00 nie

- Deposito verlang binne 14 kalenderdae na bespreking

- Aankomtyd: 14:00

- Vertrektyd: 11:00

.

BESPREKINGSBESONDERHEDE

Tel.:
+27 27 482 2825
Faks: 086 509 1683
E-pos:
sanddrif@cederbergwine.com
Posadres: Posbus 84, Clanwilliam 8135, Suid-Afrika
Skakel eerder om teleurstelling te voorkom.

.

KANTOORURE

Maandag tot Saterdag:
08:00–12:30 & 14:00–17:00
Sondae & openbare vakansiedae: 09:00–12:00 & 16:00–18:00

.

CHALETS

- Al die chalets is selfsorg.

- Daar is nie ’n restaurant op die perseel nie.

- Die kombuis is toegerus met ’n klein elektriese stofie, mikrogolfoond, yskas met vrieshokkie, ketel en broodrooster.

- Al die chalets het ’n kaggel binne en ’n braai-area buite.

- Beddegoed (bedlinne, komberse, duvets), handdoeke en kombuisvadoeke word verskaf.

- Die chalets word daagliks skoongemaak.

- Water is drinkbaar.

.

KAMPERING

- Onder skadubome op die rivieroewer, met elektrisiteit by elke kampeerplek.

- Braaifasiliteite (bring jou eie rooster)

- Twee ablusieblokke met warm water vir stort – toiletpapier word nie verskaf nie.

.

DEPOSITO’S

- Deposito betaalbaar binne 14 kalenderdae na bespreking.

- Deposito (min R25-adminfooi) word slegs terugbetaal as bespreking twee weke voor aankoms gekanselleer word.

- Deposito’s vir die vakansieseisoen en langnaweke sal net terugbetaal word as die bespreekte plek deur iemand anders geneem word.

.

WINKEL

- Die Dwarsrivier-plaaswinkel verkoop hout, Cederberg-wyne, ys en versnaperings, maar ongelukkig nie varsprodukte (brood, vars melk, vrugte en groente) nie.

.

.

———- AKTIWITEITE ———-

Pryse geldig van 1 September 2011 – 31 Augustus 2012

WYNPROE: CEDERBERG WYNE

Duur: 30 tot 60 min – dit hang af van hoeveel julle van ons wyne hou…
Koste: R20 per persoon
Kelderure:
Maandag tot Saterdag: 08:30–12:00 & 14:00–16:00
Sondae, Goeie Vrydag & Kersdag:
Nie oop vir wynproeë nie
Let wel: Geen keldertoere nie.
Groep- en spesiale proeë kan gereël word.

.

STERREKYK: CEDERBERG STERREWAG

In die vroeë 1980’s het ’n Britse sterrekundige genaamd Peter Mack die Cederberge besoek. Hy was toe in diens van die Suid-Afrikaanse astronomiese sterrewag en het dadelik besef dat ’n mens ’n amateursterrewag in die Cederberge kon vestig. Met vergunning van die destydse eienaar het hy begin om die  eerste staanplekke vir teleskope te bou. ’n Stoorkamer en ’n koepel vir ’n 16”-teleskoop is vroeg in 1986 gebou en die perseel is gebruik vir die waarneming van Halley se komeet later daardie jaar.

In 1988 het Peter Mack ’n vennootskap met vyf amateursterrekundiges van Kaapstad gesluit. ’n Grondwet is opgestel en die Cederberg Sterrewag is amptelik gestig. ’n Akkommodasieblok met kookfasiliteite is in 1989 voltooi en sedertdien is ’n ablusieblok, ’n stoorkamer en ’n tweede slaapvertrek slegs vir die Sterrewag se gebruik aangebou. ’n Skuur met ’n dak wat kan afrol huisves ’n tweede 16”-teleskoop. In die middel-1990’s is die ou sonpanele, batterye en lawaaierige kragopwekker met Eskom-krag vervang.

Duur: Ongeveer twee uur, vanaf 20:00
Koste: Donasie
Navrae: Sanddrif Vakansieoord, of
Malcolm:
malcolm@icegroup.co.za (Afrikaans)
Chris: camkit@mweb.co.za (English), of
besoek die webwerf: http://www.cederbergobs.org.za/
Let wel: - Slegs op Saterdagaande
- Mits die weer dit toelaat
- Geen vertonings op volmaanaande nie

.

VOETSLAAN EN ROTSKLIM:

Hierdie uitgestrekte wildernisgebied van amper 172 000 ha bied voetslaanroetes vir mense van alle fiksheidsvlakke. Asemrowende rotsformasies – soos die Maltese Kruis, Wolfbergskeure, Wolfbergboog, Tafelberg, Sneeuberg en Lot se Vrou – lok bergklimmers en voetslaners van oraloor. Ongerepte fynbos en ’n verskeidenheid wilde diere, voëls en insekte maak dit ’n gesogte bestemming vir natuurliefhebbers.

.

Voetslaanpermitte

- Permitte vir voetslaanroetes is slegs tydens kantoorure beskikbaar. As jy vroeg wil begin, kan jy ’n permit telefonies bespreek.

- As julle by Sanddrif Vakansieoord oornag, let daarop dat permitte vir die Wolfbergskeure en die Wolfbergboog nie by julle verblyf ingesluit is nie. Julle moet hierdie permitte kry VOOR julle gaan stap. Die permitte vir Maalgat en Lot se Vrou is by julle oornagverblyf ingesluit.

- As Sanddrif vol bespreek is, sal permitte vir Maalgat nie uitgereik word nie.

- Wild-kaarte (“Wild Cards”) moet vir die CapeNature-permitte getoon word om vir Wild-kaart-afslag te kwalifiseer.

- Dwarsrivier en Sanddrif reik GEEN oornagvoetslaanpermitte uit nie; kontak CapeNature vir hierdie permitte.

- Daar is GEEN afslag vir groepe, pensioenarisse, toergidse of studente nie.

- Pryse is onderhewig aan verandering.

.

MALTESE KRUIS (CapeNature-eiendom)

In die rigting van Algeria, ongeveer 850 m van die plaas Dwarsrivier af, is daar ’n afdraai na links wat na die Maltese Kruis lei. Die afdraai is duidelik gemerk. Ry (slegs metn permit) vir 6 km tot by die parkeerterrein. Die staproete begin daar. Volg die voetpad en die klipstapels na die Maltese Kruis.

Duur:
3 uur
Permitte: Beskikbaar by ons kantoor
Koste: R50 per volwassene; R30 per kind (2-13 jaar)

.

STADSAALGROTTE EN BOESMANTEKENINGE (CapeNature-eiendom)

Op die pad na Ceres, 8 km van Dwarsrivier af, is daar ’n natuurbewaringsbordtjie wat die pad na die Stadsaalgrotte aandui. Draai daar af, gaan deur die hek en ry in. Die Stadsaalgrotte is ’n reeks oop grotte met San-rotskuns wat dateer uit die tyd toe olifante nog in die gebied voorgekom het.

Duur: Dit hang van besoekers af hoe lank hulle in die omgewing wil spandeer om die grotte en die rotsformasies te besigtig – ’n paar minute of ’n hele dag.
Permitte: Beskikbaar by alle toerismekantore in die omgewing. ’n Permit en die kombinasie vir die slot aan die hek wat na die grotte lei, sal uitgereik word.
Koste: R30 per volwassene; R15 per kind (2-13 jaar)

.

LOT SE VROU EN DIE VENSTER

Ongeveer 1,6 km van ons kantoor af in die rigting van Algeria is daar ’n parkeerarea en ’n wegwyser na Lot se Vrou. Die maklike roete wat na die pragtige Venster-klippe lei, begin daar. Onthou, die wandelpad is ook ’n bergfietsroete, so pasop vir daardie blitsige bergfietsryers! Hierdie is slegs een van twee plekke wat binne 5 minute bereikbaar is.

Duur: 1–1½ uur
Koste: Geen koste

.

WOLFBERGSKEURE EN -BOOG (Privaat eiendom)

Ongeveer 1,2 km van Sanddrif af, aan die voet van die Wolfberg, is daar parkeerplek onder die akkerbome. Die staproete begin daar. Die pad wat na die Wolfbergskeure toe lei, is duidelik sigbaar. Drie skeure kan besigtig word en ’n mens kan die eerste twee maklik herken. Die roete na die derde skeur is vir die meer avontuurlustige toeris. ’n Kaart wat die roete aandui is beskikbaar by die kantoor op Dwarsrivier. Bo-op die berg is daar ’n pad wat na die Wolfbergboog toe lei. Dis maklik om te volg – volg die klipstapels waar die pad nie duidelik sigbaar is nie. Alhoewel daar ’n alternatiewe roete met die rif langs is, beveel ons aan dat julle dieselfde roete terug volg. By die kantoor word die roete in detail verduidelik.

Duur: Wolfbergskeure: 3-4 ure (heen en weer)
Wolfbergskeure & -boog: 8 uur (heen en weer)
Permitte: Beskikbaar by ons kantoor
Koste: Wolfbergskeure: R50 per volwassene; R30 per skolier
Wolfbergskeure & -boog
: R100 per volwassene;
R60
per kind (2-13 jaar)

.

MAALGAT

Maalgat is ’n enorme swemgat, ongeveer 50 m lank en 30 m wyd, omring deur kranse van tussen 8 en 11 m hoog – beslis net vir dié wat die sprong wil aandurf!

Duur: 35 minute in ’n stroomaf rigting vanaf Sanddrif Vakansieoord
Permitte: Dagbesoekers kan die permitte by ons kantoor kry
Let wel: Langnaweke en skoolvakansies: GEEN DAGBESOEKERS NIE!
Koste: R30 per volwassene; R15 per skolier

.

BERGFIETSRY:

.

WOLFBERG-BERGFIETSROETE

Afstand: 7,5 km
Permitte: By ons kantoor verkrygbaar
Koste: R30 per volwassene; R15 per skolier
Jy kan ’n kaart by ons kantoor kry.

.

LOT SE VROU-BERGFIETSROETE

Afstand: 12,5 km
Permitte: By ons kantoor verkrygbaar
Koste: R30 per volwassene; R15 per skolier
Jy kan ’n kaart by ons kantoor kry.

.

NUTTIGE SKAKELS:

http://www.bushmanskloof.co.za/
www.europcar.co.za/InternationalRates/Cederberg
www.cederberg.co.za

.

———————————————————————————————————————————–

7. BEWARING, BIODIVERSITEIT EN MAATSKAPLIKE VERANTWOORDELIKHEID

Cederberg Wyne is by talle projekte en inisiatiewe betrokke. Sommige van dié projekte is nog in die beginstadium, soos die bou van verhoudings met verskeie skole, die werkersprojek, die Waitrose Foundation-inisiatief en die Dwarsrivier Kindertrust. Die regs- en administratiewe kant van hierdie projekte neem baie tyd in beslag.

NATUURBEWARING

Dwarsrivier – Cederberg Wyne se tuiste – is in die Cederberg Wildernis geleë. CapeNature (http://www.capenature.org.za) is die beskermheer van hierdie bewaringsgebied, wat ook as die Cederberg Bewarea bekend staan. Altesame 19 grondeienaars het kragte saamgesnoer met CapeNature om die Bewarea tot stand te bring. Cederberg Wyne is een van agt grondeienaars wie se eiendom aan die Wildernisgebied grens.

Hier volg ’n kort lys van inisiatiewe en aspekte wat verband hou met die natuur op en om Dwarsrivier:

DIE CEDERBERG BEWAREA

Die Cederberg Bewarea (http://www.cederberg.co.za) is ’n vrywillige ooreenkoms tussen grondeienaars en die provinsiale regering om die omgewing volhoubaar te bestuur. Dit word bereik met behulp van omgewingbestuursplanne, ekologiese ouditte, samewerking en private grondeienaars se verbintenis tot natuurbewaring.

Die gebied beslaan 84 800 ha provinsiale grond en 109 913 ha grond in private besit, wat vir landbou- en toerismedoeleindes gebruik word. ’n Groot gedeelte van die grond in private besit is ongerep. Die area beslaan altesame 194 713 ha. Minder as 10% hiervan word deur mense gebruik. Die Bewarea is ’n uiters belangrike skakel tussen die kus en die Karoo in die Groter Cederberg Biodiversiteit Korridor (http://www.cederbergcorridor.org.za).

Die Cederberg Bewarea is op 20 Oktober 1997 gestig. Een van die hoofredes waarom dié Bewarea steeds van krag tot krag gaan is moontlik die feit dat dit vanuit ’n sterk toerismevereniging ontstaan het. Hierdie vereniging is in die vroeë 1980’s gestig en David Nieuwoudt se oupa, oom Pollie, was die eerste voorsitter. Die Bewarea het boere in en om die kern van die Cederberge ingesluit. Die ‘ou’ Kaapse Natuurbewaring en die Departement van Bosbou was ook belangrike rolspelers. Toe die organisasie gestig is, was hy sy tyd ver vooruit. Vandag bestaan die Bewarea uit 19 lede wat elke derde maand ontmoet om kwessies soos die bestuur van luiperds, brandbestryding, die herstel van sederbome, toerisme, visbewaring, herwinning en hergebruik te bespreek.

DIE CEDERBERG WILDERNIS

Die plaas Dwarsrivier lê op die grens van die Cederberg Wildernis (http://www.capenature.org.za). ’n Wildernis is ’n gebied wat groot genoeg is sodat natuurlike prosesse ongehinderd kan plaasvind. Dit moet ook ’n plek wees wat ’n sprituele, terapeutiese, estetiese, kulturele en historiese ervaring bied, en waar die water, grond en lug onbesoedeld is.

Die Cederberg Wildernis strek van die Middelbergpas by Citrusdal in die suide tot by die Pakhuispas agter Clanwilliam in die noorde. Dit sluit ongeveer 72 000 ha ruwe, bergagtige terrein in. In die ooste lê die Matjiesrivier Natuurreservaat (12 000 ha) aan die droër oostelike grens van die Cederberge. Hierdie gebied is in 1995 met behulp van die Wêreldnatuurfonds (WWF-SA) geproklameer en sluit die beroemde Stadsaal-rotsformasies en uitsonderlike voorbeelde van San-rotskuns in.

Geologies is die Cederberge deel van die Kaapse plooigebergte en bestaan dit hoofsaaklik uit Tafelbergsandsteen. Verweerde sandsteenformasies, veral die Wolfbergboog en die Maltese Kruis, is kenmerkend van die Cederberge. Hierdie berge val binne die Kaapse fynbosstreek en word as ’n opvanggebied bestuur. Die Wildernisgebied vorm ook die kern van ’n luiperdbestuursgebied wat in 1988 tot stand gebring is.

BIODIVERSITEIT & WYN INISIATIEF (BWI)

Toe Wines of South Africa (WOSA), die internasionale been van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, in 2004 ’n biodiversiteitsprogram aankondig – sewe jaar ná die Cederberg Bewarea gestig is – was Cederberg Wyne skepties daaroor. Hoekom? Want ons was al lankal hiermee besig. Maar op die aand van 1 Augustus 2005 het Cederberg Wyne sy gewig by dié insiatief ingegooi. Teen Augustus 2010 was daar reeds 15 kampvegters (‘champions’), 12 produserende wynkelders en 143 lede by die projek betrokke. Dit bring die totale gebied wat deur kampvegters en lede bewaar word, op 113 127 ha te staan – meer as 100% van die totale wingerdvoetspoor in die Kaapse wynland.

Om ’n lid van WOSA se BWI te word, moet ’n plaas ’n amptelike proses deurloop om te verklaar dat die ‘gebruikte’ water wat die kelder verlaat, ‘skoon’ is. ’n Kelder kan ook aansoek doen om ’n BWI-kampvegter te word – Cederberg Wyne het in 2010 kampvegterstatus gekry.

Toe Cederberg Wyne destyds by die BWI aangesluit het, was dit die plaas wat die grootste stuk ongerepte grond aan die projek ‘geskenk’ het – en dis waarskynlik nog steeds die geval. Vandag beslaan die plaas Dwarsrivier 5 500 ha, waarvan 200 ha vir boerderydoeleindes, daaglikse gebruik en vakansiedoeleindes gebruik word. Aktiewe projekte wat skole, die Bewarea en die plaaspersoneel insluit bevorder ’n bewaringsgesindheid.

GROTER CEDERBERG BIODIVERSITEIT KORRIDOR (GCBK)

Die kampvegterstatus wat Wines of South Africa (WOSA) se Biodiversiteit & Wyn Inisiatief toeken, is soortgelyk aan ’n ander inisiatief waarby Cederberg Wyne betrokke is – die GCBK.

CapeNature het saam met die Kaapse Aksie vir Mense en die Omgewing (CAPE) die Groter Cederberg Biodiversiteit Korridor (GCBK) (http://www.cederbergcorridor.org.za) op die been gebring. Die doel van die GCBK is om die laagliggende kusgebied in die weste te verbind met die Tankwakaroo in die ooste (http://www.cederbergcorridor.org.za/map.html). Daar is sewe soortgelyke korridors in Suid-Afrika. Dwarsrivier is een van vier lede wat eerste in die oostelike gedeelte van die GCBK by dié projek aangesluit het.

Volgens Jaco Venter, die projekkoördineerder, is die Groter Cederberg Biodiversiteit Korridor (GCBK) uniek in die sin dat daar nêrens elders in Suid-Afrika so ’n groot gebied is wat die mense van ’n streek, hulle landbou- en ander bedrywighede en ’n ongerepte natuurgebied insluit nie. Die Critical Ecosystem Partnership Fund (CEPF) het die aanvanklike werk vir die projek befonds. Dit was so suksesvol dat die Global Environment Facility (GEF) R1,5 miljoen geskenk het om die implementeringsfase oor vyf jaar te befonds.

DIE KAAPSE LUIPERDTRUST

Die Kaapse Luiperdtrust (http://www.capeleopard.org.za) is ’n ambisieuse projek wat in die Cederberg Bewarea begin is. Dié projek word deur Quinton Martins en sy span bestuur. Dit het met rasse skrede gegroei en sluit nou gebiede soos die Gamkaberggebied, Kammieskroon en Namakwaland in. Quinton word tans beskou as ’n baanbreker wat navorsing oor die Kaapse luiperd betref. Die doel van die inisiatief is om die luiperd se biologie en gedrag te verstaan. Sodoende kan die konflik tussen veeboerdery en bewaring bestuur en verminder word.

FLORA EN FAUNA

Die twee primêre planttipes op die plaas is sandsteenfynbos en Vetplantkaroo. Vetplantkaroo-plante groei in skalie, terwyl Cederberg-sandsteenfynbos goed aard in Tafelbergsandsteen. Ander bewaringsprojekte in die Cederberge sluit die Vetplantkaroo Ekosisteemprogram (http://www.skep.org) en die bewaring van reptiele en amfibieë in. Benewens ons webwerf is daar baie ander bronne soos tydskrifte en webwerwe (bv. http://www.cederberg.org.za/cederberg_wildlife.html) met inligting oor hierdie onderwerp.

CEDARBERGENSIS WIDDRINGTONIA – DIE SEDERBOOM

Die Cederbergse sederboom is een van drie inheemse Suid-Afrikaanse sederspesies. Net vier sederspesies word in Afrika aangetref – drie in Suid-Afrika en een in Malawi. Cedarbergensis widdringtonia is endemies tot die Cederberge en groei slegs tussen 800 en 1 400 m bo seespieël (http://www.plantzafrica.com/plantwxyz/widcedar.htm).

Europese setlaars in die Cederberge het in die 18de eeu met vee begin boer. In 1876 is ’n bosbouer aangestel om oor staatsgrond in die berge toesig te hou. Dit was moontlik die eerste poging tot bewaring in die Cederberge. Tussen 1903 en 1973 was daar egter geen keer aan die stroop van die Cederberge se natuurlike hulpbronne nie. Groot hoeveelhede sederhout, rooibostee en boegoe is geoes, terwyl boere die berge tydens droogtes vir weiding gebruik het. Groot getalle sederbome is afgekap omdat die hout so gewild was in die boubedryf – ongeveer 7 200 bome is as telefoonpale tussen Piketberg en Calvinia gebruik. Veldbrande het ook bygedra tot dié vernietiging en die sederboom staan nou op die rand van uitwissing. In 1967 is die verwydering van dooie sederbome gestaak. Ander vorme van oorontginning het in 1973 tot ’n einde gekom toe die Cederberg Wildernis geproklameer is. Die afgelope paar jaar het pogings om jong sederboompies in hulle natuurlike habitat te plant, natuurliefhebbers en besoekers aan die Cederberge bewus gemaak van die bedreigde status van die sederboom.

———————————————————————————————————————————–

8. KONTAK EN VERKOPE: NASIONAAL EN INTERNASIONAAL

VERKOPE

Vyftig persent van Cederberg Wyne se wyn word in Suid-Afrika verkoop, hoofsaaklik in die Wes-Kaap, Mpumalanga en Gauteng. Die ander 50% word uitgevoer. Ons handelsmerk het ook ’n groot aantal private ondersteuners deur die hele land. Op 1 Maart 2009 het ons by die plaaslike groothandelverspreider, Meridian Wynhandelaars, aangesluit (http://www.meridianwines.co.za) – ons is deel van hulle ‘Latitude’-portefeulje. Dit het nuwe markte in Suid-Afrika vir ons ontsluit.

Let wel:

- Die Waitrose-reeks is slegs beskikbaar by uitgesoekte Waitrose-winkels in die VK.

- Die Kaapse Wynmakersgilde-reeks is slegs beskikbaar by die jaarlikse Kaapse Wynmakersgilde se veiling in Suid-Afrika.

HOE OM ONS WYN TE BESTEL

GROOTHANDEL IN SUID-AFRIKA

Om ons wyn uit die Cederberg-reeks (insluitende die Blanc de Blancs Méthode Cap Classique en die Sustainable Rosé) en ons Five Generations-reeks te bestel, kontak ons groothandelverspreiders in Suid-Afrika, Meridian Wynhandelaars:

Meridian Wynhandelaars: Nasionale kantoor
0861 113 959
info@meridianwines.co.za
http://www.meridianwines.co.za


PRIVATE KLIËNTE IN SUID-AFRIKA

KUBERWINKEL
Private kliënte kan Cederberg se wyn deur hierdie vennootskap met wine.co.za koop

Alternatiewelik kan jy ons direk kontak:

Cederberg Wyne – Nasionaal
+27 27 482 2827
+27 86 509 1682
jaco@cederbergwine.com

INTERNASIONALE KLIëNTE

Hieronder is ’n lys van die 17 lande waarheen ons uitvoer, en die verspreider in elke land – kontak hulle asseblief om ons wyn te bestel. As ’n internasionale verspreider een of twee van die wyne nie het nie, kontak ons en ons sal probeer reël dat die verspreider dit aflewer:

Cederberg Wyne – Internasionaal
+27 27 482 2827
jaco@cederbergwine.com

INTERNASIONALE VERSPREIDERS

BELGIË

 

 

Wijnschuur Oud Antwerpen
+32 3 666 7861
wijnschuur.oudantwerpen@online.be
http://www.wijnschuur.or

 

KANAAL-EILANDE

 

 

Crown Limited (t/a Rose & Crown)
+ 44 1481 823414
roseandcrown@alderney.ws
http://www.wine.gg

 

CHINA (Pudong-distrik – Shanghai)

 

 

Shangai Shaosiju Business & Trading Co. Ltd
+86 21 5485 7886
nancy_xkm@hotmail.com
under construction

 

TSJEGGIESE REPUBLIEK

 

 

Trade Sport Marketing
+420 724 666 100
zdenek.lang@tsmglobal.cz
under construction

 

DUITSLAND

 

 

CWD Champagner- und Wein-Distributionsgesellschaft mbH & Co. KG
+49 4122 504 504
info@cwdwein.de
http://www.cwdwein.de

 

HONGKONG (Wanchai)

 

 

Maxford Wine Limited
+852 3102 3900
Gabriel_wong@maxfordwines.com
http://www.maxfordwines.com

 

JAPAN

 

 

Jyoshin Co. Ltd.
+81 3 5786 2929
cederberg.japan@gmail.com

KOREA

 

 

Diverse Flavours
+27 71 255 7344
anthonybudd@hotmail.com
http://www.diverseflavours.com

NAMIBIË

 

 

The Wine Bar and Wine Shop
+264 61 226 514
windmillwines@mweb.com.na
http://www.windmill-wines.com

 

NEDERLAND

 

 

Les Généreux
+31-(0)-575-543 667
info@lesgenereux.nl
http://www.lesgenereux.nl

 

NIGERIË

J Galt International
+27 21 685 7060
brent@jgaltglobal.com

POLE

 

 

Willa Win
+48 721 500 300
cezary.jarocki@willawin.pl
www.willawin.pl

 

SKOTLAND (Wes-)

 

 

Woffenden Wines
+44 1204 308 081
woffendenwines@btinternet.com
http://www.capewines-bolton.co.uk

SEYCHELLE, MALEDIVE & MAURITIUS

 

 

Indian Ocean Export Co. Pty Ltd.
+27 31 312 6262
mandyk@ioec.co.za
http://www.ioec.co.za

 

SINGAPOER

 

 

Bays Connections Pty Ltd
+65 6316 1448
info@baysconnections.com
http://www.thewinecompany.com.sg

 

SWEDE

 

 

Jakobsson & Söderström Vinhandel AB
+46 40 661 4600
contact@js-vin.com
http://www.js-vin.com

 

VERENIGDE KONINKRYK

 

 

Bancroft Wines
+44 20 7232 5470
sales@bancroftwines.com
http://www.bancroftwines.com

VSA

 

 

Cape Wine / World Premiere Wines
704 360 4208
info@capewine.com
http://www.capewine.com/
Worthwhile Wine Company(Northeast and Western US)
678 358 5241
tom@worthwhilewine.com
http://worthwhilewine.com/

———————————————————————————————————————————–

9. INTERESSANTE VRAE:

KLIMAAT

Raak dit net so warm in die Cederberge as op Clanwilliam en Citrusdal?
Dis nie so warm in die Cederberge soos op Clanwilliam of Citrusdal nie. Hierdie dorpe is bekend vir hulle hoë dag- en nagtemperature. Iemand wat in ’n motor met die lugreëling aan na ons toe ry, besef nie dat die temperatuur tussen die N7 (en Clanwilliam of Citrusdal) en die plaas aansienlik daal nie, want ons is gemiddeld 1 000 m bo seespieël. Tussen die N7 en die plaas is daar op enige gegewe dag maklik ’n verskil van 7–12 °C. Dis te wyte aan die koue Mediterreense klimaat. Dié droë klimaat met sy besonder lae humiditeit maak selfs hoë temperature draaglik. In die Cederberge kan dag- en nagtemperture maklik gemiddeld met tussen 20 en 25 °C verskil.

 

Merk julle enige tekens van klimaatsverandering op?
Jare lank het Cederberg Wyne eers in die middel van Februarie begin druiwe pluk, maar deesdae begin ons reeds in die laaste week van Januarie oes. Aan die een kant stem dit ooreen met die internasionale wynbedryf se ervaring van aardverwarming; aan die ander kant is dit die gevolg van virusbestande plantmateriaal wat vroeër ryp word.

WATER

Waar kom julle water vandaan en moes julle al ooit vir water boor?
Tussen 2003 en 2006 was dit baie droog in die Cederberge. Die gemiddelde reënval was nog altyd so 680 mm per jaar, maar toe het dit geval na 450 mm per jaar. Ons is gelukkig om in ’n deel van die Wes-Kaap te bly waar daar nog altyd genoeg onderaardse water was. Ons kan sien dat die water nie meer so sterk loop nie, maar tot dusver was dit nog nie nodig om te boor nie. Al ons water, behalwe die water vir die vakansieoord se besproeiingstelsel, kom van ’n bergfontein af.

 

Wat is Dwarsrivier se ‘waterstorie’?
Al die water wat op die plaas gebruik word, is afkomstig uit die Dwarsrivier, wat aan die westekant van Sneeuberg ontspring. Dis gedeeltelik op ons grond. Ons gebruik geen water uit die Uitkyk-gebied nie. As ons na die ‘plaas’ verwys, bedoel ons die huishoudelike waterverbruik vir 29 wonings, die vakansieoord, die besproeiingstelsel vir die wingerde en al die water vir die kelder. Die vakansieoord se besproeiingswater kom vanuit ’n ander bron.

 

WYNE EN WINGERDE

Hoe het julle hier op Dwarsrivier begin wyn maak?
Voor die politieke veranderinge in die 1990’s was wynboerdery ’n inkomste soos enige ander soort boerdery, hetsy skaap, vrugte of vis. Die groot name in die bedryf wat natuurlik welbekend. Tot so in die omgewing van 1990 het die Nieuwoudts op vrugte, tabak, groente en vee gefokus. Toe sanksies gedurende die 1990’s opgehef is, het die boerderyomgewing drasties verander. Baie boere het begin spesialiseer. Dikwels het veral die jonger boere voor reuse-uitdagings te staan gekom – skielik was die hele wêreld ’n potensiële mark. In die Cederberge het David Nieuwoudt teruggekeer na die plaas waarop hy grootgeword het, en besluit om hom op wyn toe te spits. Dit was immers sy studieveld en voorliefde. Die jaar? 1997.

 

 

Alhoewel dit ’n omstrede onderwerp is, wil ons graag weer vra – wat is jou standpunt oor die konsep ‘organies’?En hoeveel koper en sulfaat gebruik julle?
Wynmaker David Nieuwoudt antwoord soos volg: “Kom ek hou dit kort en kragtig:
Een: Wees versigtig, die woord ‘organies’ is dikwels (a) ’n bemarkingsfoefie en (b) ’n geldmaakstorie.
Twee: Ek gebruik geen koper nie – ons het dié praktyk jare gelede gestaak.
Drie: Ons gebruik ‘poeiersulfaat’ (‘dusting sulphur’). Maar baie, baie minder as op ander wynplase, want danksy die uiterse wintertoestande en omdat ons so afgeleë is, kom donsskimmel nie in die Cederberge voor nie. Ons is eintlik baie gelukkig, want ons hoef nie sistemiese middels in ons wingerde te gebruik nie.”

 

Het julle al ooit probleme met insekte gehad?Indien wel, met watter spesies?
Snuitkewers (Phlyctinus callosus) het al in die verlede voorgekom. Maar daar is nou tarentale op die plaas wat in die wingerde rondloop. Hulle help om insekte wat die wingerdstokke kan beskadig, te beheer.

TERROIR

Comments

Feed
Trackback URL

  • Francisca du Randt

    Ek werk aan ‘n Afrikaanse teks en julle webwerf is die heel eerste een wat ek teenkom met ‘n Afrikaanse weergawe. Ek kan nie vir julle vertel hoe bly ek was toe ek die skakel sien nie! Dit voel vir my asof alles Engels word en hier is ‘n webwerf in die keurigste Afrikaans. Tien uit tien vir julle – julle pas nie net die omgewing op nie, maar ook ons kulturele erfenis!

Leave Comment

Comments and Questions:

We welcome your comments and questions, specially if you think our facts are outrageous or wrong – this is how we learn.

Please note: Comment moderation is enabled and may delay your comment. There is no need to resubmit your comment.